WELKOM BY GOOI DIE HOED

Die naam “Gooi die Hoed” is afkomstig van ‘n plaas geleë in die Winburg distrik.  Die grond is in 1938 deur  Hendrik Schalk Kok (Oupa aan moederskant van Theo Jansen van Rensburg) aangekoop en is steeds deel van ons familie.  Alhoewel daar ‘n paar variasies is, het die naam ontstaan nadat twee boere baie jare gelede in die veld was en hulle in ‘n leeu se pad bevind het. (Die plaas langs aan heet “Leeuwkuil”).  Toe die leeu op die een man afstorm, het die ander een geskreeu “Gooi jou hoed”.  Die boer het die raad gevolg en in die paar sekondes wat die leeu na die hoed gespring het, kon hy betyds te perd wegkom.

Ons het, as studente, dikwels gesê dat ons eendag dalk die naam sou wou gebruik en in 2001 het ons “Gooi die Hoed Motors BK” opgerig.

Die naam “Gooi die Hoed” lê ons baie na aan die hart, nie net omdat dit so ‘n besondere naam is nie, maar veral omdat dit in lyn is met ons strewe om “kreatiewe planne te maak in alle omstandighede!”

Ons is sedert April 2001 by Curie Park Convenience Centre en oor die afgelope dekade het ons deur Groot Genade baie veranderinge beleef tot waar die Gooi die Hoed Groep vandag is.

Ons is positiewe Suid-Afrikaners en Bloemfonteiners met ‘n groot liefde vir die mense om ons.

Kuier gerus op ons webtuiste en kyk wat ons alles bied!